top of page

Nuwe rooster, Brandwagbandjies, wat dink julle?

Die band van grys en groen klou styf aan ons Brandwagters se polse. Brandwag het vanjaar ’n nuwe modegier gekry en, ek moet bieg, dit lyk darem spoggerig.

Die groen bandjies herinner ons leerders daagliks dat ons deel is van die band van grys en groen en dat almal trots moet wees op ons skool.

Dit is so lekker om in die gange af te marsjeer en die bandjies op almal se gewrigte te sien klou nie, dis amper asof die skool aan die leerder self wil vasklou.

Die beste ding van hierdie bandjies is dat dit tot in ewigheid by jou sal bly as ’n herinnering van die skool waarin jy is en waarvan jy eendag ’n oudleerder sal wees.

Die skrif van die bandjies mag dalk afwas, maar die impak wat jou skool op jou het sal nooit kan afwas nie. Die verbleikte woorde is ’n teken dat die leerders hulle bandjies te alle tye dra, so die feit dat jy nie meer die skrif kan sien nie is vir my ’n teken van lojaliteit.

Die bandjies kweek ’n unieke gevoel van trots by Brandwagters en hou ons ter selfde tyd modern van aard. Die bandjies is beslis ’n bate vir ons skool en bewys net weereens dat Brandwag wel die beste is en ook sal bly.

Dit bring my by die nuwe rooster. Net vyf periodes in een dag mag dalk min klink, maar glo my, selfs net een wiskunde-periode is oorgenoeg vir my grysstof. Die beste ding van net vyf periodes per dag is dat jy net vyf vakke se boeke soos ’n donkie op jou rug hoef te dra.

Die periodes mag dalk minder wees, maar die periodes se tydsduur is beslis langer. Hopelik verstaan die onderwysers dat die periodes langer gemaak is sodat daar tyd vir huiswerk in die klas is en ter selfde tyd moet die kinders hierdie konsep ook verstaan. Benut die ekstra klastyd om jou huiswerk te voltooi.

Nuwe bandjies en ook ’n nuwe rooster. Alles is positiewe veranderinge en dus bly Brandwag bo.


bottom of page