top of page

Wat as ... jou pa die skoolhoof is?

Of dit nou jou droom of jou nagmerrie is, ons het almal al gewonder hoe dit sou wees om jou ouers heeldag by die skool te hê.

Ek weet my ma het al vele kere gedreig om aansoek te doen om by Brandwag skool te gee. Dit maak my so skrik dat ek net "Yes Mommy" vir alles sê vir ’n hele week na dit.

Daar is wel iemand in ons midde wat hierdie "droom" beleef. Sêma'so het Anneli Zietsman nader getrek en gehoor hoe dit werklik is om die skoolhoof se dogter te wees. Ons het selfs ’n paar woorde van die Grootmeneer Z gekry!

Sêma'so gesels met Anneli

Sêma'so: Vir hoeveel jaar is jou pa al die hoof van die skool waar jy skoolgaan?

My pa is al my skoolhoof vir my hele hoërskoolloopbaan - twee jaar by Gill en nou by Brandwag.

Sêma'so: Watter voordele hou jou situasie in?

As ek regtig ’n nood het, dan gebruik ek sy badkamer! Ek kan ook die yskas in sy kantoor gebruik.

Sêma'so: Dink jy mense behandel jou anders omdat jy die hoof se dogter is?

Nee, ek moet net so hard werk as enige ander kind. My pa het my al vroeg in my lewe geleer dat niks pasella is nie.

Sêma'so: Dink jy dat seuns afgesit word deur jou pa?

Ja, totdat hulle by my huis kom kuier en sien hy is ’n doodgewone pa. Vra maar vir ET oor die keer toe hy ’n gat in ons swembad-deck getrap het!

Sêma'so: Is jy meer soos jou ma of meer soos jou pa?

’n Bietjie soos albei, my pa se humorsin, motivering en selfdissipline - en my ma se liefde om te kuier en mense te bederf. Ek weet net nie waar my deurmekaar kamer vandaan kom nie!

Sêma'so: As al die onderwysers skielik verdwyn het, en jy was hoof vir die dag, wat sou jy wou doen?

Busse huur en die hele skool na PE se stadion neem vir ’n groot konsert.

Sêma'so gesels met mnr Zietsman

Sêma'so: Is Meneer strenger met Anneli as die res van die skool?

Bewustelik nee, onbewustelik ja.

Sêma'so: Sal Meneer ooit met opset ’n seun wat ’n oog op Anneli het, afskrik?

Nee. Sy weet wat sy wil hê in die lewe. Soos enige ouer wil ek graag my kind gelukkig sien.

Sêma'so: Bloot hipoteties, wat sou Meneer se gunsteling manier wees om seuns af te skrik?

Kom braai by my en vertel ’n bietjie vir my wat is die verskil in smaak tussen Amsterdam Lite en Windhoek Lite.

Daar het julle dit. Dit klink asof Anneli haar situasie geniet. ’n Klomp Brandwagters sal beslis van daai yskas-idee hou. Dink julle die personeel sal agterkom as een van ons "juffrou" se waterbottel kom bêre?


bottom of page