top of page

Brandwag se bobaas eerste spanne

Wie het vir jou gesê om in Brandwag se pad te lê? Stamp daai boude lam, stamp daai boude lam.

Ander skole se broeke bewe om teen Brandwag te speel te danke aan ons bobaas eerste spanne. Brandwag se rugby, netbal en hokkie skitter met sukses hierdie jaar.

(Sêma'so het nié vergeet van skaak, gholf, tennis en krieket nie - hou dié webwerf dop.)

Die rugby spog met oorwinnings teen Marlow en DP. Die netbal presteer pragtig met hul sukses om 2de in die K2-toernooi te eindig en die hokkie stel ook nooit teleur nie, aangesien hulle DF Malherbe huis toe gestuur het met ’n oortuigende telling.

Sêma'so het dit goed gedink om ons skool se trots beter te leer ken, dus is daar met afrigters en kapteins van dié eerste spanne ’n onderhoud gevoer.

Die eerste rugbyspan het Braam Weyers as kaptein en mnr. Van Schalkwyk as afrigter met mnr. Wickus Viljoen as hulpafrigter. Hierdie is ’n kombinasie van leiding wat tot groot sukses gelei het en wat beloof om nog groter prestasies te behaal.

Sêma’so aan mnr. Van Schalkwyk: Meneer is al lank deel van die eerste rugbyspan. Wat is Meneer se tegniek met betrekking tot afrigting? Mnr. van Schalkwyk : Leer spelers die basiese vaardighede en help hulle dit toepas. Ek glo ook in repetisie by oefeninge na alles.

Sêma’so: Hoe is Braam as kaptein? Wat is sy goeie eienskappe? Mnr. van Schalkwyk: Hy is ’n baie goeie leier, hy lei deur die voorbeeld vir sy span daar te stel.

Sêma’so: Wat is Meneer se doelwit vir 2016 se rugbyspan? Mnr.van Schalkwyk: Om die seuns te ontwikkel tot mans wat hulle plek in die samelewing kan vol staan.

Sêma’so aan Braam: As watter soort kaptein sien jy jouself ? Braam : Een wat lead by example.

Sêma’so: Wie is jou staatmakers in die span? Braam: Cuyler, vir ’n ekstra opinie en James by die lynstane.

Sêma’so: Wie is jou grootste ondersteuner en hoekom ? Braam: DJ, een van die werkers by die skool. Hy is elke tuiswedstryd daar en skree uit volle bors vir ons.

Sêma’so: Wie in die span is die stilste, die loudste en die weirdste? Braam: Dean is stil, die loud een is Piston en James is die weird een.

Danielle Thirion lei die eerste netbalspan en Juffrou Schonken rig hulle af. Verloor is beslis nie in hierdie span se woordeskat nie.

Sêma’so aan juf. Schonken: Wat is die wenresep vir 2016 se eerste netbalspan?

Juf. Schonken: Spangees, samewerking en ’n gemeenskaplike doel.

Sêma’so: Wat is vir Juffrou die hoogtepunt tot dusvêr met betrekking tot die netbalspan?

Juf Schonken: Nie die wenne nie, maar die lekker gees wat onder die dogters heers. Ek is veral beïndruk met hulle veggees.

Sêma’so: Wat wil Juffrou met die span hierdie jaar bereik? Juf Schonken: Dat die liefde van netbal behoue sal bly, selfs na skool. Dat die span sal weet jy het die persoon langs jou nodig om suksesvol te wees.

Sêma’so aan Danielle: Beskryf jou span. Danielle: Daar is beslis ’n band tussen ons. Ons is altyd daar vir mekaar en help waar ons kan, of dit nou op of van die baan af is.

Sêma’so: Beskryf elke speelster in een woord. Danielle: Mothira →sniper Margo → giffie Tanya → danser Johané → giggles Kayla → loud Anneli → rustig Zoë → bolt Rozanne → goldy locks Elmé→ mongi Liané → jolig

Sêma’so: Wie in die span het die lekkerste skinderstories, beste styl advies, kan almal altyd laat lag en wie is die grootste ondersteuner? Danielle: Mothira en Tanya het die lekkerste skinderstories, Elmé gee goeie styl advies, Liané bring altyd ’n glimlag en Kayla ondersteun altyd.

Sêma’so: Wat is die kwaliteit wat jy tot die span bydra? Danielle: Ek motiveer my span om altyd hulle beste te doen. Selfs op af dae om hulle te verseker dat die span vierkantig agter hulle staan.

Laaste maar beslis nie die minste nie, het Brandwag ’n talentvolle eerste hokkiespan. Veronique Bellingan is die kaptein en juf. von Willigh is hulle afrigter.

Sêma’so aan juf. Von Willigh: Vanjaar se eerste hokkiespan het ’n meerderheid juniors, hoe beïnvloed dit die spel en die uitkoms van ’n wedstryde? Juf. von Willigh: Ek beskou dit as ’n belegging vir die toekoms. Elke junior lewer op haar eie unieke manier ’n bydrae. Hulle dra by tot die energie van die span.

Sêma’so: Wat is 2016 se hokkie-wenresep? Juf. von Willigh: Doen die basiese dinge reg! Vergeet van “fancy” goed. Werk as ’n span saam.

Sêma’so: ’n Afrigter leer lewenslesse ook, wat is die les wat Juffrou vir die meisies wil leer?

Juf. von Willigh: Bly altyd nederig, al presteer jy baie goed. Gee altyd die eer aan Jesus Christus, leer uit jou foute en gee om vir mekaar.

Sêma’so aan Veronique: Was jy verbaas met jou verkiesing as kaptein?

Veronique : Ja, maar met harde werk en deur uitputtende oefeninge het ek bewys dat ek dit verdien.

Sêma’so: Wat maak hokkie vir jou spesiaal? Veronique: Die band van die meisies wat gevorm word en hoe ons mekaar ondersteun deur dik en dun. Dit voel asof ek ’n magdom susters het wat vir altyd sal omgee. Ons grappies tydens oefeninge is ook baie spesiaal, want dit kan my dag opkikker.

Sêma’so: Wie is julle grootste ondersteuner ? Veronique: Mnr. von Willigh is ons grootste ondersteuner.

Sêma’so: Watter advies het jy vir jong toekomstige eerste hokkiespan meisies?

Veronique: Eerstens, volg jou drome en moet nooit opgee nie. Van harde werk sal daar sukses kom. Tweedens, “suck it up cupcake” want uithouvermoë maak van jou ’n wenner.

Akademie is die hoof aktiwiteit by Brandwag, maar ons kan spog met puik punte én uitmuntende eerste spanne.


bottom of page